Wiktionary:Deelwoord

Deelwoorde is woorde in tale wat van Proto-Indo-Europees afstam wat kenmerke van werkwoorde en naamwoorde deel.

Grieks wysig

Die Oudgriekse werkwoord ποιέω -- "doen, maak" het byvoorbeeld tien deelwoorde geken.

Bedrywend Medium Lydend
Teenwoordig ποιέων ποιεόμενος
Aoristus ποιήσᾱς ποιησᾰ́μενος ποιηθείς
Voltooid πεποιηκώς πεποιημένος
Toekomend ποιήσων ποιησόμενος ποιηθησόμενος

Hierdie woorde is van 'n werkwoord afgeleid en ken soos werkwoorde tye en aspekte (presens, aoritus, perfectum en futurum) asook lydende, bedrywende en medium-vorme. Hulle kan ook soos werkwoord lydende en meewerkende voorwerpe besit of bepalings met 'n voorsetsel of 'n bywoord.

Hulle is nogtans altyd as 'n naamwoord gebruik en verbuig. Gewoonlik is dit 'n byvoeglike naamwoord, maar dit kan ook 'n selfstandige naamwoord wees of soms 'n bywoord. Sommige van hierdie deelwoord kan met 'n Afrikaanse deelwoord soos "makend" vertaal word, maar dikwels moet dit met 'n bysin weergegee word:

ποιέων ἀνήρ -- 'n makende man; 'n man wat maak
πεποιηκώς ἀνήρ -- 'n man wat gemaak het
ποιηθησόμενον -- dit wat gemaak sal word

In Grieks is die enigste deelwoord wat as onderdeel van die vervoeging van die werkwoord gebruik die lydend voltooide πεποιημένος wat soms saam met die hulpwerkwoord "wees" vir konjunktiewe en optatiewe gebruik is.

πεποιημένος εἴη -- dit is hopelik gemaak

Russies wysig

In ander Indo-Europese tale is dit vandag steeds so, byvoorbeeld in Russies wat talle deelwoorde het wat hoofsaaklik naamwoordelik of ook bywoordelik gebruik word.

Die werkwoord делать -"maak, doen" het byvoorbeeld die deelwoorde

Teenwoordig bedrywend де́лающий
Verlede bedrywend де́лавший
Teenwoordig bedryw. bywoordelik де́лая
Verlede bedryw bywoordelik де́лав, де́лавши
Teenwoordig lydend де́лаемый
Verlede lydend де́ланный

Hierdie deelwoorde het die onvoltooide aspek. Die werkwoord van die voltooide aspek сделать het sy eie deelwoorde.

Latyn wysig

In Latyn is die werkwoordelike gebruik, 'n konstruksie met 'n deelwoord soos "factum" (gemaak) saam met en 'n hulpwerkwoord soos "est" (is) volopper, byvoorbeeld:

facio -- ek maak
feci -- ek het gemaak
factum est -- dit is gemaak

Germaanse tale wysig

Proto-Germaans het net twee deelwoorde geken. Die werkwoord *makōną het die deelwoorde:

  • makōndz -- die teenwoordige bedrywende deelwoord, waar Afrikaans "makend" van afstam
  • makōdaz -- die verlede lydende deelwoord, waar Afrikaans "gemaak(te)" van afstam

In Germaanse tale soos Engels, Duits, Nederlands en Afrikaans het die werkwoordelike gebruik van die deelwoorde met verskeie hulpwerkwoorde toegeneem. Afrikaans gebruik "gemaak" byvoorbeeld met "word", "het" en "is".

In Engels word ook die teenwoordige deelwoord werkwoordelik gebruik:

I am making
I have been making
I have made
This was made

Die Engelse uitgang -ing is nogtans 'n later ontwikkeling. Die oorspronklike -end, -and vorm kan nog in woorde as "flippant" gesien word.

In Engels kan die deelwoorde egter ook steeds naamwoordelik gebruik word:

I bought a car made in China
He was working ferociously, making a mess in the process.

In die laaste voorbeeld word 'n bysin met die deelwoord "making" ingelei met "a mess" as lydende voorwerp van die deelwoord en "in the process" as 'n bywoordelike bepaling van die deelwoord. Sulke konstruksies is ook in Grieks of Russies volop.

In Afrikaans (en Nederlands) word sulke konstruksies nogtans baie minder aangetref. In Afrikaans het die werkwoordelike deelwoord dikwels 'n ander vorm as die naamwoordelike ontwikkel.[1] Soms is daar 'n verskil tussen 'n swakke en 'n sterke vorm. Die sterke een is dikwels figuurlik of beperk tot 'n bepaalde idioom.[2]

Daar is Afrikaanse taalkundiges wat die werkwoordelike deelwoorde net as werkwoordvorm en die naamwoordelike net as 'gewone' (byvoeglike) naamwoorde analiseer. 'n Seker produktiwiteit kan nogtans nie ontken word nie, soos byvoorbeeld in:

Sorg dus dat jy meer alkalies makende kosse eet as suur makende kosse.[3]

Die deelwoorde van oorganklike werkwoorde wat 'n lydende vorm het kan gewoonlik ook naamwoordelik gebruik word:

Die werk word gemaak -- die gemaakte werk

By onoorganklike of wederkerende werkwoorde is dit nie waar nie:

Die hond blaf --> die geblafte hond
Die man vergis hom --> die vergiste ding

'n Uitsondering is werkwoorde wat 'n proses beskryf, pleks van 'n handeling soos smelt:

Die botter smelt --> Die gesmelte botter


'n Kenmerk van die Germaanse deelwoorde is dat hulle dikwels 'n antoniem met die voorvoegsel "on-" besit. Daar is byvoorbeeld gebruikte goeters en ongebruikte goeters in Afrikaans, gebruikte en ongebruikte spullen in Nederlands, gebrauchte und ungebrauchte Sachen in Duits en used and unused items in Engels.

Buite Indo-Europees wysig

Daar is in tale buite die Indo-Europese familie soms ook woorde wat in funksie met die Indo-Europese deelwoorde ooreenstem. In Xhosa kom byvoorbeeld 'n deelwoordelike wys voor, wat 'n groep werwoordvorms is wat eienskappe besit wat ooreenkom met die deelwoord in die Indo-Europese tale.

  Verwysings wysig