Wiktionary:Byvoeglike naamwoord

'n Byvoeglike naamwoord (of adjektief; b.nw.) is 'n naamwoord wat die eienskappe of attribute van 'n selfstandige naamwoord (of voornaamwoord) spesifiseer. Die byvoeglike naamwoord bepaal dus 'n selfstandige naamwoord, soos in: Die grys rok (rok is die s.nw. en dit word as "grys" beskryf).

Uitkenning wysig

Toets vir 'n byvoeglike naamwoord deur die volgende vrae te vra:

Kan dit voor 'n naamwoord staan, asook ná die koppelwerkwoord en steeds iets sê oor die naamwoord?
Het die woord trappe van vergelyking?

As voorbeeld:

kort > 'n kort rok – die rok is kort; kort – korter – kortste
opgewonde > die opgewonde gehoor – die gehoor is opgewonde; opgewonde – meer opgewonde – die mees opgewonde

Trappe van vergelyking wysig

Byvoeglike naamwoorde het trappe van vergelyking:

Die sterk stoeier. (stellende trap)
Die sterker stoeier. (vergelykende trap)
Die sterkste stoeier. (oortreffende trap)

Die meeste b.nw. het reëlmatige trappe van vergelyking:

mooi, mooier, mooiste
lelik, leliker, lelikste
klein, kleiner, kleinste
geel, geler, geelste
groen, groener, groenste

Sommige b.nw. het onreëlmatige vorme:

baie, meer, meeste
goed, beter, beste
naby, nader, naaste

Dan is daar nog 'n groep wat saam met meer en mees in die vergelykende en oortreffende trap voorkom, byvoorbeeld:

opgewonde, meer opgewonde, mees opgewonde
gedaan, meer gedaan, mees gedaan
bevrees, meer bevrees, mees bevrees

Lidwoorde wysig

Die lidwoord kom in 'n woordgroep saam met die byvoeglike naamwoord voor:

'n Groot kar, 'n groter kar, die grootste kar
'n Mooi poging, 'n mooier poging, die mooiste poging
Die groen gras, die groener gras, die groenste gras

By die oortreffende trap kom bepaalde lidwoorde voor, maar by die stellende en vergelykende trappe kan die onbepaalde en die bepaalde lidwoord voorkom.

Die groot kar × 'n groot kar
Die mooi meisie × 'n mooi meisie

Attributiewe en predikatiewe wysig

Die byvoeglike naamwoord kan in 'n sin of voor die selfstandige naamwoord staan of daarna. Kyk na die volgende sinne:

Die blou lug is helder.
Die helder lug is blou.

As die b.nw. voor die s.nw. kom, staan dit in die attributiewe posisie; as dit na die b.nw. staan, beklee dit die predikatiewe posisie (na die koppelwerkwoord is.)

Baie b.nw. se vorm verander nie in hierdie twee posisies nie: Vergelyk:

Die mooi seun × Die seun is mooi
Die mooi perd × Die perd is bruin
Die kwaai onderwyser × Die onderwyser is kwaai

Daar is egter ook 'n aantal b.nw. wat 'n vormverandering toon in die attributiewe gebruik. Byvoorbeeld:

Die nuwe hoed × Die hoed is nuut.
Die goeie onderwyseres × Die onderwyseres is goed.
Die leë bord × Die bord is leeg.
Die skewe hoed × Die hoed is skeef.
'n Lang seun × Die seun is lank.
'n Jong man × Die man is jonk.
'n Growwe stem × Sy stem is grof.
'n Lelike wond × Die wond is lelik.
Die getroue skepsel × Die skepsel is getrou.